

Inleiding
Sommige liedjies word vinnig gebore. Ander weier eenvoudig om weg te gaan.
Die titel Aardbewing het een oggend vroeg in Desember 2016 in Egmond se kop vasgesteek nadat hy wakker geword het van ’n aardbewing wat deur die Noordkus van KwaZulu-Natal getrek het. Hoewel die aardbewing nie veel skade aangerig het nie, was dit die ervaring self wat nog dae lank by hom gespook het.
Die woord het soos ’n goeie liedjietitel gevoel en, soos dikwels met Egmond se musiek gebeur, het die titel kort daarna in ’n melodie begin verander. Dit sou egter byna nege jaar duur voordat Aardbewing uiteindelik opgeneem en uitgereik sou word.
Ontstaan
Reeds in die CD-boekie van 2018 se Sirkus Applous is Aardbewing aangekondig saam met ander nuwe liedjietitels soos Everything We Say en Spookasem. Dié twee liedjies is onderskeidelik tussen 2020 en 2024 uitgereik, maar Aardbewing het in die laai bly lê.
Beide Aardbewing en Spookasem was later ook bestem vir die 2023-album Koeksister Pop.
“Daar was eenvoudig nie genoeg tyd om dit ook op te neem nie,” vertel Egmond. “Dis maar een van daai dinge, en daar’s gewoonlik ’n rede hoekom dinge nie volgens plan verloop nie.”
Die eerste demo van Aardbewing is reeds in 2017 aan die Australiese vervaardiger Sandy Robbie gestuur. Die liedjie was aanvanklik bedoel as ’n duet met Yolandi en sou in dieselfde energieke styl as hul treffer Vlieg aangepak word.
“Dis partykeer goed om dinge so ’n bietjie te laat staan en in die laai te vergeet. Wanneer jy later weer daarna kyk, kry jy nuwe inspirasie en ook die kans om daarop te verbeter.”
Daardie wagtyd sou uiteindelik die liedjie heeltemal verander.
Lirieke en betekenis
Die lirieke van Aardbewing het deur die jare verskeie vorms aangeneem voordat die finale weergawe middel 2025 ontstaan het.
Geskryf uit ’n plek van ekstase én verwoesting, gebruik die liedjie die krag van ’n aardbewing as metafoor vir verbode liefde: iets wat onverwags tref, alles verskuif en ’n mens dwing om die wêreld rondom jou anders te sien.
Die reël “hoekom is dit sleg, dit voel dan so reg” raak aan die konflik tussen persoonlike waarheid en die menings en verwagtinge van ander. Die liedjie ondersoek wat gebeur wanneer liefde deur buitestaanders beoordeel word, en hoe sulke druk skade kan veroorsaak wat soos ’n tsunami deur mense se lewens spoel.
Daardie spanning tussen ekstase en verwoesting sou later ook die visuele wêreld van Aardbewing bepaal.
Opname en vervaardiging
Aardbewing het einde Mei 2025 uiteindelik amptelik in produksie gegaan, met stemopnames wat vroeg in Augustus gevolg het.
Die oorspronklike vokale opname was aanvanklik slegs bedoel as ’n gids vir Sandy Robbie om te bevestig dat alles reg is voordat die finale stem opgeneem word.
“Maar hy’t so baie daarvan gehou dat hy dit sommer self gebruik het,” vertel Egmond.
Selfs die tempo het tydens produksie ’n klein aardbewing beleef. Die liedjie is aanvanklik van 134 BPM na 129 BPM vertraag, maar ná die eerste terugspeel is besluit om dit weer na die oorspronklike tempo terug te neem.
“Die stadiger weergawe het die gevoel van die liedjie laat verlore gaan, so ons het dit weer aangepas.”
Die liedjie was reeds sedert 2024 in onderhoude op verskeie radiostasies bespreek en het byna nóg ’n keer sy plek verloor toe ’n ander liedjie, Stop, as moontlike volgende enkelsnit oorweeg is. Toe die tyd vir die ateljee uiteindelik aanbreek, het Aardbewing egter soos die regte keuse gevoel.
Ironies genoeg sou Stop minder as ’n jaar later die enkelsnit word wat die Aardbewing-era uiteindelik opvolg.
Musiekvideo en simboliek
Die musiekvideo is middel Augustus 2025 opgeneem, met die eerste foto’s agter die skerms wat kort daarna op sosiale media verskyn het.
Die video se swart-en-wit wêreld skep ’n doelbewuste kontras tussen twee mense. Die een bring sy bestaan deur binne die ysterkloue van masjinerie, terwyl die ander vryheid in die buitelug vind.
Hierdie twee wêrelde weerspieël die “yin” en “yang” van die lirieke: vasgevang teenoor vryheid, ekstase teenoor verwoesting, en die begeerte om iets te volg wat reg voel ten spyte van die gevolge.
Die Video Mix-musiekvideo het op 15 September 2025 sy première gehad, byna drie weke voor die digitale vrystelling van die enkelsnit. Afrikaanse Treffers en Kunstenaar Ondersteuningsblad was onder die musiekbladsye wat die video gedeel het.
’n Tweede musiekvideo vir die korter Radio Edit het saam met die digitale vrystelling gevolg. Dié weergawe bevat ’n alternatiewe intro en is ongeveer 20 sekondes korter as die Video Mix.
Die musiek agter Aardbewing
As deel van die veldtog het Egmond ook ’n spesiale Spotify-speellys saamgestel met musiek wat deel van die ontstaan van Aardbewing geword het.
“Die liedjies op die speellys was altyd óf kliphard in my ore óf saans op die TV gespeel. Elke liedjie was deel van die skryfproses, hetsy dit emosionele inspirasie was of my gedra het tydens die stil tye. Ek’t gedog dit is ’n goeie idee om mense ’n alternatiewe kykie te gee agter die skerms van wat tydens die liedjieskryfproses gebeur.”
Die speellys bied daarmee iets anders as tradisionele agter-die-skerms-materiaal: ’n kykie na die musiek en emosies wat die liedjie gevoed het voordat iemand anders dit kon hoor.
Vrystelling en speellyste
Aardbewing is op 3 Oktober 2025 digitaal uitgereik in drie verskillende weergawes: die Radio Edit, Video Mix en ’n langer Extended Mix, met laasgenoemde spesifiek geskik vir klubs en dansvloere.
Die enkelsnit is kort ná vrystelling op verskeie belangrike stromingspeellyste ingesluit, waaronder Spotify se Nuwe Afrikaans, Apple Music se New In Afrikaans en Maroela Media se Weeklikse Nuwe Vrystellings.
Op Apple Music is Aardbewing ook op New Music Daily geplaas en het dit op nommer 167 op die Top 200 Afrikaanse liedjies gedebuteer.
Die enkelsnit het gedurende sy eerste twee maande meer as 3 000 strome op elk van Spotify en Apple Music aangeteken en was steeds gedurende sy tweede week op van die prominente speellyste teenwoordig.
Teen die einde van 2025 is Aardbewing ook as Egmond se mees gespeelde liedjie in sy Apple Music Replay ’25-statistieke én Spotify Wrapped 2025-resultate aangedui.
Media en radio
Die vermaakwebwerf Skinder & Sop was die eerste om die persverklaring vir Aardbewing op Facebook te deel, gevolg deur onder meer Glans en Galore SA Media.
Harties FM het die eerste radiostasie geword wat die nuwe enkelsnit gespeel het. Daarna het die liedjie onder meer lugtyd ontvang op Radio Laeveld 100.5FM, Riebeek Valley Radio, Waterberg Stereo, 93.4 Radio Namakwaland, IFM 102.2 FM, Jou Radio, Jou Stasie, Overvaal Stereo 96.1FM, Parys Tourism Radio, Global FM, Radio X5 Stereo en Vaal Stereo.
Die eerste radio-onderhoud oor die enkelsnit is vroeg in November op Jou Stasie gevoer, gevolg deur onderhoude op Overvaal Stereo en Radio Laeveld 100.5FM. Jou Radio het in Desember gevolg.
Aardbewing het ook Nederlandse luisteraars bereik en is deur verskeie stasies daar gespeel, waaronder Sternet 105.4 FM, Dinxper FM, Radio 350, Hofstreek FM 107.6, Radio Spannenburg FM 96.4, ORTS 106.2FM, RSO Radio, Radio Weststellingwerf Centraal, Tynaarlo Lokaal FM 105.9, Omroep Eemsdelta 105.4 FM en HOi FM.
Treffersukses
Op Vaal Stereo se Top 20 het Aardbewing op nommer 13 gedebuteer voordat dit die daaropvolgende week tot nommer 3 geklim het.
Die liedjie het vir ’n verdere week op nommer 3 gebly voordat dit op 6 November 2025 die nommer 1-posisie bereik het.
In sy vyfde week het dit steeds sterk op nommer 2 gestaan, waarna dit gedurende die daaropvolgende weke geleidelik na nommers 13, 16 en uiteindelik 19 beweeg het.
Die nommer 1-plasing was ’n besondere mylpaal vir ’n liedjie wat byna nege jaar lank gewag het om uiteindelik gehoor te word.
CD, viniel en die einde van die era
Op 23 Januarie 2026 is Aardbewing as ’n beperkte CD-enkelsnit uitgereik. Slegs 50 eksemplare is vervaardig, met al drie weergawes van die digitale enkelsnit op die skyf.
Die musiekvideo het intussen verder momentum opgebou. In April 2026 het dit 10 000 kyke op YouTube bereik, waarna die syfer vroeg in Mei reeds tot 30 000 gestyg het.
Vroeg in Junie, kort nadat aangekondig is dat die Aardbewing-era tot ’n einde sou kom om plek te maak vir die volgende enkelsnit, Stop, het die video die 40 000-kerf bereik. Teen middel Junie het dit reeds 50 000 kyke verbygesteek.
Die sirkel is op 14 Junie 2026 voltooi toe Aardbewing ook as ’n beperkte 12-duim-viniel-enkelsnit uitgereik is.
Wat in Desember 2016 met ’n werklike aardbewing en ’n enkele woord in Egmond se kop begin het, het byna ’n dekade later ontwikkel tot ’n nommer 1-treffer, ’n musiekvideo met meer as 50 000 kyke, digitale sukses, internasionale radiolugtyd en fisieke uitreikings op beide CD en viniel.
Die liedjie het lank gewag vir sy oomblik.
Toe dit uiteindelik kom, het die aarde behoorlik gebewe.
Release history
Musiek Video Premiere – 15 September 2025
Streaming – 3 Oktober 2025
CD-Single – 23 Januarie 2026
12″-Viniel – 14 Junie 2026
12″-VINIEL Tracklisting
A1) Radio Edit
B1) Video Mix
B2) Extended Mix

Video stills
STROOM “AARDBEWING” HIER
Jy vang my onkant en gee my jou hand | Ons trap oor die lyn en vind elke sein | Jy lei my verstand tot teen aan die rand | Die sterre verskyn terwyl ons verdwyn | Hoekom is dit sleg? | Dit voel dan so reg | Ons breek elke reël | Risiko gedeel | Ons voorkoppe saam | En ek proe jou naam | En dan tref jy soos ‘n aardbewing | Jou vloed golf spoel als weg | Jy’s soos ‘n aardbewing | Aardbewing | ‘n Knop in my keel as ek jou wang streel | My hande is koud; ons vingers benoud | Wie kan ons oordeel? | Jy’t my hart gesteel | Jou oë swart en goud | En nou’s niks meer fout | Hoekom is dit sleg? | Dit voel dan so reg | Ons breek elke reël | Risiko gedeel | Ons voorkoppe saam | En ek proe jou naam | En dan tref jy soos ‘n aardbewing | Jou vloed golf spoel als weg | Jy’s soos ‘n aardbewing | Aardbewing
Woorde: Egmond | Musiek: Egmond & Sandy Robbie
© Kopiereg SAMRO




