

STOP is die tweede enkelsnit vanaf Egmond se opkomende album 17:28 — maar die storie agter die liedjie begin lank voordat die eerste noot daarvan ooit opgeneem is.
Sommige liedjies word geskryf en dadelik opgeneem. Ander neem jare om hul pad na die wêreld te vind. STOP behoort beslis aan laasgenoemde groep.
Die oorsprong van die liedjie kan teruggespoor word na die 2018-opnames van Koebaai. Die Sandy Robbie-vervaardigde backtrack was halfpad voltooi toe Egmond die nuus kry dat die liedjie se klank in ’n ander rigting gaan beweeg en dié musiek nie gebruik sou word nie.
“Die probleem was dat ek nog steeds mal was oor die ritme en die instrumente. Koebaai het perfek uitgedraai, maar daardie musiek het my betower.”
Toe tref inspirasie. Egmond skryf ’n nuwe melodie wat by die musiek pas.
Die liedjie se naam? Spookasem.
En daarmee begin ’n reis wat uiteindelik, jare later, sou lei tot STOP.
Die CD-boekie van 2018 se Sirkus Applous kondig drie toekomstige opnames aan: Aardbewing, Everything We Say en Spookasem. Maar Spookasem se tyd sou eers jare later aanbreek.
In 2024, kort voordat Egmond die demo vir produksie aan Sandy Robbie sou stuur, besluit hy om die liedjie terug te trek. Daar was ’n ander liedjie wat reeds aan hom begin knaag het: Ok Bye — ’n onvoltooide snit waarvoor hy op daardie stadium slegs die verse geskryf het.
Die twee liedjies begin op ’n onverwagte manier met mekaar praat. Die verse van Ok Bye pas by die gevoel van Spookasem se refrein, en ’n paar dae later word die twee idees saamgesmelt. Die resultaat is ’n nuwe weergawe van Spookasem wat uiteindelik in 2024 sy pad na die wêreld vind en ’n Top 10-treffer word.
Maar die oorspronklike verse wat jare tevore vir Spookasem geskryf is, word op ys geplaas.
Die musiek bly egter by Egmond spook.
Terwyl hy in 2024 besig is met die promosie rondom Spookasem, vertel hy tydens ’n onderhoud op Jou Radio van ’n splinternuwe liedjie wat hom een oggend tydens ’n draf oorval het.
Die titel?
STOP.
Die nuus word entoesiasties kort voor Kersfees bekend gemaak, en ’n jaar later, tydens die bemarking rondom Aardbewing, word daar weer na die liedjie verwys. Maar daar is ’n probleem: Egmond het op daardie stadium slegs die refrein.
En toe kry die afgeskeepte verse van Spookasem ’n tweede kans.
Die woorde wat jare lank op ys gelê het, pas perfek by die STOP-refrein. Skielik begin die legkaartstukke inmekaar val.
Die liedjie is gebore.
Maar die storie was nog nie klaar nie.
Die probleem was egter dat die liedjie se onderwerp en sy opwindende wysie nie heeltemal vrede met mekaar gemaak het nie.
Egmond het begin wonder of die eens opgewekte musiek nie dalk verlore sou raak agter die gewig van die oorspronklike lirieke nie. Die melodie het hom opgewonde gemaak, maar die woorde het ’n heel ander storie vertel.
Toe kom 2026.
Een Saterdagmiddag wat aanvanklik soos enige ander dag begin het, verander skielik in iets asemrowends. Nuwe woorde begin uit Egmond se pen vloei. Hy skaaf, herskryf en verfyn totdat die lirieke uiteindelik presies sê wat hy wil hê.
’n Nuwe pre-chorus word geskryf.
Teen die middag is die demo opgeneem.
En toe hy uiteindelik na die resultaat luister, is hy stomgeslaan.
Die liedjie wat jare lank deur verskillende vorms, idees en selfs ander liedjies gereis het, het uiteindelik sy bestemming bereik.
STOP was nie meer ’n refrein wat wag vir ’n liedjie nie.
Dit was die liedjie.
“Ek’t soveel van myself in die liedjie ingeskryf, maar natuurlik is daar weer ’n klomp goed weggesteek soos wat ek gewoonlik met woorde toor,” terg Egmond.
Een van die grootste kopkrappers is die albumtitel 17:28, wat in die liedjie op twee verskillende maniere uitgespreek word — een korrek en een heeltemal verregaande.
“Daar is ’n paar liedjies wat tyd en nommers gebruik, en ek’t nog nooit rêrig spesifiek na tyd as sulks verwys nie. Toe ek agterkom dat ek die albumtitel hierin kon gebruik, was dit ’n groot sprong vorentoe.
“Die beste was dat ek dit hier in ’n ander konteks kon gebruik teenoor wat dit rêrig is. Maar daai betekenis is net vir sekere ore beskore!”
Die nuwe demo word vervolgens aan Leon Barnardt gestuur — een van Suid-Afrika se voorste vervaardigers en musikante.
“Ons ken mekaar nou al vir jare, en ek’t nog nooit die geleentheid gehad om by hom op te neem nie. Maar toe STOP gebeur het, het dit net gevoel asof dit die regte rigting is.”
Vir die eerste keer kry STOP ’n ateljee waarin al die los drade van die liedjie bymekaar kan kom.
Die opname vind op 29 Junie 2026 in Centurion plaas, met Leon Barnardt aan die stuur van die produksie. Maar die kreatiewe reis eindig nie daar nie.
Twee dae later, op 2 Julie, word die musiekvideo in Centurion en by Hartbeespoortdam verfilm.
Vir Egmond is dit ’n besonderse mylpaal: STOP is sy eerste musiekvideo wat in 4K uitgereik word.
Die Behind The Scenes-video word op 8 Julie 2026 uitgereik en gee luisteraars ’n eerste kykie na die wêreld wat rondom STOP geskep is, terwyl die eerste teaser van die musiekvideo op 12 Julie via YouTube Shorts verskyn.
Maar selfs die vrystellingsdatum is nie sommer lukraak gekies nie.
STOP se musiekvideo sou op 07:08 op 7 Augustus 2026 sy première beleef.
Want met Egmond is getalle selde net getalle.
‘n Maand voor die amptelike uitreiking word die omslag van STOP op 7 Julie 2026 bekend gestel.
Die finale omslag word voltooi met die hulp van die Britse ontwerper Thomas Lawrie-Clark, wat ook musiekvideo’s vervaardig het vir die 40ste bestaansjaar van Egmond se gunstelinggroep, Roxette.
Maar STOP is nie net vir digitale platforms bedoel nie.
Die enkelsnit word ook as ’n fisiese CD-Single en 12”-viniel uitgereik, met Aardbewing as die B-kant van die fisiese vrystelling. Die digitale weergawe bevat slegs die titelsnit.
En dan is daar nog ’n geheim.
Egmond onthul dat daar reeds ’n Engelse weergawe van STOP bestaan. Die liedjie, getiteld “Hi!”, is nie bloot ’n vertaling van die Afrikaanse weergawe nie, maar ’n direkte voortsetting van die storie wat in STOP begin.
Die titel self is reeds in die Afrikaanse lirieke versteek.
“Daardie weergawe sal op een of ander tyd ook nog uitgereik word,” vertel Egmond entoesiasties. “Want dit voltooi die storie wat in STOP begin het.”
En so eindig STOP se storie voorlopig nie met die vrystelling van die enkelsnit nie.
Dit is bloot waar die volgende hoofstuk begin.
STOP in die media
Sedert die eerste radio-première het STOP stadig maar seker sy pad na luisteraars, radiostasies en media regoor Suid-Afrika — en selfs verder — begin vind.
📻 Radio & onderhoude
25 Julie 2026 — Kosmos Stereo
STOP maak sy amptelike radio-première op Kosmos Stereo tydens ’n spesiale halfuur-onderhoud met Egmond. Die uitsending bring hom ook weer by stasiobestuurder Anna uit, wat hom reeds in 2008 ontmoet het tydens ’n onderhoud rondom die bekendstelling van sy debuutalbum.
↓
12 Augustus 2026 — Radio Overberg
Radio Overberg volg met ’n onderhoud met Egmond, aangebied deur Anne-Marie Burger.
↓
30 Augustus 2026 — Radio Suid-Afrika
Radio Suid-Afrika se AJ Mouton voer ’n onderhoud met Egmond tydens die program HOOR en speel 4 van die kunstenaar se snitte.
↓
1 September 2026 — Caledon FM
Piet Obies kuier met Egmond regstreeks om 17:15 op Caledon FM.
↓
2026 — Radio & speellyste
STOP word ook op die speellyste van Vaal Stereo, Streektaal Radio in Nederland, Radio Suid-Afrika, Caledon FM, Jou Stasie, Riebeek Valley Radio, Global FM en Harties FM geplaas.
↓
Die snit word ook as kandidaat vir die RSA Hit Parade Top 20 opgeneem, en op 1 September betree dit die Top 20 in die nommer 10 posisie.
↓
ConCom speellys die enkelsnit in September wat op hul In Store Radio uitsendings ingesluit word.
📰 In die media
Die belangstelling rondom STOP strek verder as radio.
6 Augustus 2026
Glans publiseer die persverklaring op die vooraand van die vrystelling.
↓
Augustus 2026
GaloreSA deel die nuus oor STOP, terwyl InDi Kollig, Skinder & Sop en Kunstenaar Ondersteuningsblad ook aandag aan die nuwe enkelsnit gee.
↓
Witblits Se Nuusflits plaas ’n komiese artikel oor die vrystelling, kompleet met ’n comic-book-tekening.
↓
The-Go-To-Guy deel die persverklaring op hul webwerf en sosiale media.
↓
Afrikaanse Treffers deel ook die STOP-musiekvideo.
📺 TV & Stroom Platforms
Die STOP-musiekvideo word vrygestel op Spotify en Apple Music, wat dit Egmond se eerste musiek video maak op die platforms.
↓
Die STOP-musiekvideo kry die groen lig vir sy debuut op nasionale televisie en sal eersdaags op Kraakvars op kykNET NOU, DStv-kanaal 146, verskyn.
↓
Die STOP-musiekvideo word gespeellys op Jou Afrikaans.
↓
En die reis gaan voort…
Release history
Streaming – 7 Aug 2026
CD-Single – 7 Aug 2026
12″-Viniel – 7 Aug 2026
Video stills
STROOM “STOP” HIER
Dis vyf agt en twintig | Ek’s weer op die teerpad | My hart klop so vinnig | My hemp sopnat | Dis twee voor half ses | En ek sien jou doer aankom | Jou kar soos ‘n mes | En jy kou kougom | Ek wonder of jy dalk | Ek hoop dat jy wel dalk | Ek kyk op en daar’s jy | Kan jy my raaksien? | Gaan jy my raaksien? | Wil jy? | En ek sê | STOP! | Stop asseblief | Of gee my hart terug | Waai vir my of knik jou kop | STOP! | Stop asseblief | Sê “Hi!” en vra my | Wil ek vir koffie oorkom? | Dis vyf agt en twintig | Dis tyd vir die teerpad | Ek weet dis waansinnig | En ek reën nat | Dis twee voor half ses | Daar’s jou ligte wat aankom | Jy lyk altyd jou bes | Ek glimlag so dom
Woorde & Musiek: Egmond
© Kopiereg SAMRO





