Pyn het ‘n baie lang geskiedenis wat strek tot in 2008. Die lirieke is geskryf dieselfde dag as Melkweg Reënboog s’n op Halloween 2008 in Limpopo en was bedoel vir die album Vuil Wasgoed; getiteld Onverdiende Pyn. Slegs gedeeltes van die liedjie het ‘n wysie gehad en dit was in ‘n laai gebêre vir 12 jaar totdat werk aan sy Engelse enkelsnit Everything We Say (ft Algorrid3m) begin is.

Volgens die sanger was dit altyd die plan om ook ‘n Afrikaanse weergawe van daardie enkelsnit op te neem en hy het een middag in 2020 in sy argiewe rondgekrap en op Onverdiende Pyn afgekom. ‘n Ander half-voltooide liedjie, Toe Ruit, se passievolle woorde het ook baie sterk uitgestaan. Die beste lirieke van beide onvoltooide liedjies was die basis vir die Afrikaanse weergawe van Everything We Say.

Slegs die Engelse liedjie is voltooi en uitgereik daardie jaar. Die Afrikaanse weergawe is terug in die laai gesit vir die Sirkus Applous Encore album. Opnames het begin in April 2022 maar met vertragings tydens die studio opnames is die album se looporde aangepas van 13 na ‘n kort en kragtige 10 toe. Pyn se weglating het betekend dat dit deel kon vorm van die volgende album Koeksister Pop.

Pyn word intussen afgekondig as die co-lead single vir die treffer album, met die Engelse Everything We Say (The Sandy Robbie Remake ft Kaley, Algorrid3m). Beide enkelsnitte word geskeduleer vir uitreiking kort voor Kersfees 2022.

Die Australiaanse nagtegaal Kaley is genader deur Sandy Robbie tydens die produksie van Pyn. Die snit was oorspronklik beplan as ‘n duet met Yolandi van Vlieg-faam, maar weens omstandighede kon die duet nie plaasvind nie. Dit was Sandy Robbie se idee om die twee sangers op te paar en hy het dit self onderneem om Kaley die Afrikaanse lirieke foneties te leer. Opnames is voltooi in November na addisionele veranderinge aan die struktuur van die snit. Die enkelsnit se omslag is laat November bekend gestel op sosiale media.

‘n Unieke lirieke video het premiere op 2 Desember 2022. Vier verskillende weergawes van die offisiële musiek video bestaan. Een weergawe, gedoop die “shower/mirror” weergawe, word in ‘n spieëlbeeld vorm aangebied met emosie belaaide tonele wat opgeneem is in ‘n stort. Hierdie weergawe, wat ‘n swart en wit video is, was afgeraai vir uitreiking omdat dit die reeds hartseer liedjie nog meer “depressief” gemaak het. (Gedeeltes van die video het wel opgedaag in die Ongelooflik (ft Kaley) musiek video in 2023!) Alhoewel Kaley nie kon deelneem aan die video opnames nie, word haar teenwoordigheid reg deur die finale weergawe van die video gevoel.

Pyn het sy nasionale radio debuut gemaak in vroeg Januarie 2023 op Radio Namakwaland, gevolg deur RSG wat ‘n spesiale boodskap van die sanger vooraf gespeel het toe dit op die program “Oppieradio” gedraai het. Musical Venture Radio het ook Pyn ingesluit in hul “Naweek saam met David” program. Verdere radio stasies het gevolglik Pyn gelys, insluitende Radio Ritme, Overvaal Stereo en Radio Overberg, wat ook ‘n onderhoud met Egmond gevoer het tydens die premiere van die snit. ‘n Spesiale jingle is ook opgeneem vir die stasie. Laat Januarie 2023 is Pyn genomineer vir “Best Adult Contemporary Single” in die jaar se Afri-Indie Musiek Toekennings.

In Februarie is Pyn ook gespeel op Jou Stasie, Radio Laeveld, 90.6FM, Kosmos Stereo, IFM en Caledon FM tydens verskeie onderhoude. In Maart word Pyn ook gelaai op die speellys van Impala Radio en word bekend gestel tydens ‘n laat aand onderhoud op die program “Kom Kuier Saam”. Meer as 1.5 miljoen luisteraars is bereik met die promosie veldtog vir Pyn, wat die fondasie gebou het vir die opvolg enkelsnit Ongelooflik (ft Kaley) en die album Koeksister Pop se uitreiking ‘n paar maande later.

KRY “PYN” HIER

Hoe kan ek hierin glo? Als is onderstebo. Jou woorde sny, daar’s trane in my oë. Die skade teen die muur. Wreedheid word verduur… Die sêgoed brand – gewetenloos soos vuur. Vir hierdie dag, so bang, vir hierdie dag! Toe kom hierdie pyn! Onverdiende pyn! Herringeringe brand soos hout in vuur. Vat weg hierdie pyn! Onverdiende pyn! Ek reik uit na jou onsigbare muur. Die pad vol selfverwyt. Daar’s trane teen die ruit. My wonde pleit; die vloer voel ongelyk. Die spieëls begin te kraak. Jou oë so vol wraak. Ek loop die plank – hoor wapenlose klank. Leë skote teen die muur. Vir hierdie dag, so bang, vir hierdie dag! Toe kom hierdie pyn! Onverdiende pyn! Herringeringe brand soos hout en vuur. Vat weg hierdie pyn, onverdiende pyn! Ek reik uit na jou onsigbare muur.

Woorde: Egmond & Sandy Robbie
Musiek: Egmond, Sandy Robbie & Algorrid3m
© Kopiereg SAMRO